Twee Suid-Afrikaanse musikante, Annari Breed en DuPreez Strauss, het pas op hul eerste Europese toer vertrek met die doel om Afrikaanse musiek en die groeiende ondersteuning van Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in België en Nederland te vier.
Breed en Strauss het op 1 Maart na Vlaandere en Nederland vertrek vir ’n reeks optredes om ’n passie vir Afrikaanse musiek in die buiteland te bevorder. Hul deel hul eksklusiewe dagboekinskrywings met LitNet.
Oostende 1
Geskryf 6 Maart 2017
Hubert en Imelda ry ons aan tot in Oostende.
Niks is darem ooit te dramaties ver hier nie. Sou jy ry vanaf Knokke-Heist as verste noordelike punt tot by Virton as mees suidelike punt, ry jy net so ’n bietjie meer as 300 km. Dit is die lengte van beide Vlaandere en Wallonië (die Franstalige deel van België).
Wanneer ons wegtrek uit Moorsel, Tervuren, is dit sonskyn en mooiweer so ver as die oog kan sien.
Ter viering hiervan trek ek uitbundig die kleinste broek aan wat ek ooit besit het vandat ek 16 jaar oud was. Darem bo-oor dik sykouse, maar steeds. Die donskombers van ’n jas waarin ek op al DuPreez se foto’s verskyn, bly tuis.
Ons gaan see toe, julle!
Hoe verder noord ons ry, hoe gryser en meer dreigend lyk die lug.
Teen die tyd dat ons in Oostende ingestoom kom, slaan die ysreën kwaad teen die voorruit aan.
Ons word, omdat ons daarvoor gevra het, by die strand afgelaai.
Beide sambrele word summier verkeerde kant toe gewaai. Ook maar dankie daarvoor, anders het hierdie wind ons Mary Poppins-styl tot in die Engelse kanaal in gestuur.
Hubert en Imelda kyk twyfelagtig toe. Maar hier gaan nie vandag ’n Cornelis Johannes of ’n Susanna Maria, wie se voorvaders 12 kinders op gebed, harde werk en rooi grond moes grootmaak, se naam deur die modder gesleep word nie.
Ons leun in teen daardie wind en promenade so hard ons kan langs hierdie triestige 65 km-kuslyn ooste se kant toe.
Daar verskyn ’n statige ou gebou op regterhand.
Dit lyk tegelykertyd na ’n museum en ’n restaurant.
Te deftig vir meisies in kortbroeke, dink ek nog.
My gedagte is nog by “deftig” toe is DuPreez al in by die voordeur.
“Mag ons asseblief inkom?” piep ons. Druipstert staan ons op die drumpel van ’n plek waar ek voel ons nie behoort te wees nie.
Hier hoort ander mense. Mense wat van hier af kom, is geregtig op hierdie gestyfde linne en druipende kandelare.
Ek besef met ’n skok ek voel myself waaragtig minderwaardig teenoor hierdie Europese “toppunt” van beskawing.
Wanneer het dit dan gebeur?!
Ek was nog altyd ’n wêreldburger eerder as ’n Afrikaner.
Deur na Engeland te verhuis toe ek 21 jaar oud was, het ek ’n gemaklike afstand tussen my en my taal, my mense en my geskiedenis geplaas.
Ek het my tuis gevoel in die meeste plekke waar ek aangeland het. Vyfsterhotel of hool van ’n uithangplek in die East End van Londen.
As jy van nêrens kom nie, is dit makliker om orals te kan inpas.
Maar vandat ek begin het met die reis waarop “Susanna my Geliefde” my geneem het, twee jaar gelede, is dit asof ek op ’n pelgrimstog gegaan het terug na my wortels toe.
En ek voel myself weerloos en onbekend hier.
Ek voel onwelkom, nie oor my broek nie, maar oor die taal wat ek praat en omdat ek nie van “hier” is nie. Ek is ’n misplaaste Afrikaner en al het ek al hierdie Europese aspirasies en admirasies (jammer, Pa, vir die woorde wat nie bestaan nie), is ek nie ’n Europeër nie.
Iewers het die gedagte posgevat dat “hier” eenvoudig “beter” is. Om die een of ander rede is dit generasie na generasie op subtiele maniere oorgedra. Die manier waarop daar na die boustyl, die mense, die kos, die klere verwys word. Sonder om die waarheid van hierdie stellings ooit te bevraagteken. Ek ruik lont. Die gedagte steek vas soos ’n turksvydoring. Eina en irriterend in gelyke hoeveelhede.
Die middeljarige kelner is alleen in hierdie enorme restaurant.
Hy verwelkom ons met ope arms.
En maak selfs ’n grap oor ons wat asseblief geduldig moet wees met hom, omdat dit so “druk bezig zijn”.
Ons hoort toe wel al die tyd hier. Ons het toe wel bestaansreg. Toegestaan deur ’n kelner in ’n spierwit voorskoot.
Toe die warm sjokolade opdaag, is dit regte, egte, gesmelte Belgiese sjokolade met styfgeklopte room bo-op en ons kry ’n aparte bordjie met fyn snytjies koek en klein blink toegedraaide Paaseiertjies ook by. (Rekening? Ses euro per persoon. 84 Suid-Afrikaanse rand.)
Ek herinner my die polistireenkoppie met Ricoffy en Cremora wat my verhemelte aan flarde gebrand het iewers by ’n padstal op pad Port Elizabeth toe. Die weersomstandighede was vergelykbaar. Dus moet ek toegee dat dít wat ek hier proe en ruik en sien, in dié geval wel “beter” is “hier”.
Oostende 2
Geskryf 7 Maart
’n Dag later sit ek laat die aand alleen in ’n kroeg en probeer werk aan ’n agtergrondstorie vir ’n liedjie. Ek raak heeltemal weggevoer deur my eie skepping hier op die skerm voor my.
Opeens raak ek bewus ’n vreemde stilte om my en menselywe te naby aan my.
Ek kyk vervaard op.
Daar is ’n halfmaan kroegvlieë wat agter my staan en … WAT?! Sowaar as vet oor my skouer lees wat ek skryf!
Ek gaan van bang na boos binne 3,5 sekondes. Wie het julle grootgemaak?!
Die een begin my Afrikaanse teks hardop lees en sy vriende wil oor mekaar val van die lag.
Hulle probeer my proesend vertel dat my taalgebruik die snaaksste is wat hulle nog ooit gelees het. Dat niemand “meer so praat nie, maar dat dit tog te oulik is”.
Eindelik verstaan ek waarvoor daardie emotikon op my foon is. Die een wat net so ’n gesiggie is met twee oë en geen mond nie.
Twee Belgiese biere later is die strydbyl begrawe en peper die manne my met vrae oor Afrikaans en Suid-Afrika. Dit is nie ’n verrassing dat al wat hulle van Suid-Afrika weet, dit is wat by hulle sitkamers ingedra word deur die nuuskanale nie. Daardie brokkies bitter slegte nuus wat ten beste ’n elfde van die hele storie vertel.
Nie een van hulle het geweet van die bestaan van die lewende, bewende taal wat my moedertaal is nie.
Toe dit tyd is vir my om te groet, sê een van die manne, by wyse van ’n totsiens, sonder ’n sweem van ’n glimlag of ’n aksent: “Haar pa was ’n boer en ’n digter en haar ma was mooier as mooi …”
Emotikon. Twee oë, geen mond.

Dag uit by die see

Kou-houd

Ons hoort toe al die tyd hier.

Promenade in profiel
The post Afrikaans in die Laaglande-toerdagboek: inskrywing 4 appeared first on LitNet.