Quantcast
Channel: NeerlandiNet - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 396

Boekresensie: Gelukkige slawe deur Tom Lanoye

$
0
0

gelukkigeslawe300Titel: Gelukkige slawe
Skrywer: Tom Lanoye, vertaal deur Daniel Hugo
Uitgewer: Protea Boekhuis (2015)
ISBN: 9781485304326

Het jy jou al kom kry dat jy ’n fliekkarakter amper hardop verskree? Of gevoel jy wil jou hande in ’n teks indruk, ’n karakter aan die strot beetkry en hom skud terwyl jy gil: “Het jy dan niks geleer nie?!?”

Dit is die gevoel waarmee Gelukkige slawe my laat.

Lees ook:
Foto’s en videos AKA 2016: Zuilenzaal
Alle foto’s: Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam 2016
NeerlandiNet

Tom Lanoye is ’n veelsydige en produktiewe skrywer van onder meer gedigte, rubrieke en dramas. In sy prosa-oeuvre kan veral drie strominge aangetoon word: die outobiografiese (soos Kartondose, wat hy in 1996 by die KKNK in Oudtshoorn opgevoer het, en die onlangse Sprakeloos), die magies-realistiese (wat ek veral in sy kortverhale raakgelees het, soos dié wat in ’n Slagterseun met ’n brilletjie opgeneem is), en dan ’n soort hiperrealisme, met romans wat bevolk word deur karakters wat ongewone omstandighede en avonture beleef, soos Gelukkige slawe. Die vier genoemde titels is almal deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal; danksy vertalings en sy gereelde verblyf en optredes in Suid-Afrika is Lanoye dus ook aan Afrikaanse lesers bekend.

Die gebeure in ’n Lanoye-roman, soos in Gelukkige slawe, is heeltemal realisties moontlik, hoewel sommige lesers mag voel dat die sameloop van dinge darem onwaarskynlik is. Maar dit is juis die ekstreme gebeure wat die verhaal interessant maak: nie almal wil tog nóg ’n voor die hand liggende voorstedelike storie lees nie – van Lanoye verwag ’n mens nou al iets buitenissigs.

In hierdie boek, oorspronklik in 2013 gepubliseer, lê die spanning in die bestaan van twee karakters genaamd Tony Hanssen. Albei is Belge, albei is in ‘n geldelike verknorsing, albei reis die wêreld vol agter oplossings aan, en hulle lyk selfs ’n bietjie na mekaar. Maar voorheen was hulle salig onbewus van mekaar. Lanoye maak dit nie vir die leser maklik wanneer die twee mekaar eindelik ontmoet nie: jy moet deeglik kophou om te weet wie wanneer die fokalisator is.

Die een hoofkarakter leer ons in Buenos Aires ken. Hy het die voorstedelikheid van sy lewe in België ontvlug, op skepe gewerk (eers met passasiers, later met vrag), eendag onverwags groot geluk gehad met ’n roeletweddenskap, en daarna spoedig in dobbelskuld versink. Die vername Chinese sakeman Bo Xiang het hom nou aan die kort hare beet; hy reis dus gedwee saam met mevrou Bo Xiang as assistent en eindelik ook as katelknaap. Haar oorlye in flagrante tydens hul verblyf in Buenos Aires word ’n groot probleem, en Tony se terugkeer na China om sake aan meneer Bo Xiang te gaan verduidelik stel nie 'n plesierige vakansie in die vooruitsig nie.

Die ander Tony is aanvanklik in Suid-Afrika. Hy is voortvlugtig weens sy binnekennis van die bankineenstorting van 2008; hy moes homself veiligheidshalwe nie alleen uit België nie, maar ook uit die kuberwêreld laat verdwyn. Sy finansiële toekoms is gebaseer op die verkry en verkoop van renosterhoring: ons ontmoet hom juis wanneer hy geweer teen die skouer staan om sy toekoms proaktief rooskleurig te maak.

Natuurlik gaan daar iewers verwarring tussen die twee naamgenote insluip. Natuurlik gaan hulle mekaar ontmoet. En steeds verras die afloop: Lanoye gooi vaardige jakkalsdraaie, en plant subtiel inligting en voorspellings van moontlikhede, sodat die uiteinde ten slotte heel logies voorkom. Maar hieroor moet ek natuurlik die minimum sê sodat die leser self die avonture kan meemaak.

Ek het onlangs Pat Stamatélos se Vier begrafnisse en ’n troue gelees. Op die agterblad word hierdie lekkerleesboek ’n “eg-satiriese roman” genoem. Sover ek satire verstaan, is dit onsin. Stamatélos plaas haar karakters in omstandighede waarin hulle status quo omvergewerp word. Hulle moet vinnig uitvind hoe om in die veranderde omstandighede aan te pas, maar hul pogings maak sake net erger en meer ingewikkeld. Net wanneer jy dink hulle is reddeloos verlore, gebeur ’n paar wonderlike dinge en alles kom reg. Die karakters bereik ’n nuwe punt van stabiliteit en vrede en geluk. Stamatélos maak dus gebruik van die struktuur van ’n klassieke komedie. Haar verteller is heeltemal té deernisvol teenoor die karakters, selfs al word daar liefderyk die draak gesteek met hulle – dit is in daardie opsig beslis nie ’n satire nie.

In Lanoye se roman staan sake gans anders. Die karakters word nie met deernis behandel nie, maar deurdringend bekyk in terme van hul persoonlikhede en motivering en gebreke. Die intensiteit van die ekstreme en bisarre dinge wat met hulle gebeur, laat dit lyk asof Lanoye ook ’n komedie aanlê (’n “inkswart tragikomedie”, soos dit op die agterblad heet), maar hy gaan verder.

’n Belangrike tema in die roman is die rol van geld: hoe dit verkry en verloor word, hoe dit goed én misdadig aangewend word, hoe daarvoor beplan word en hoe dit ’n mens mag kan gee. Albei Tonys toon deursettingsvermoë in hierdie opsig: elkeen beleef besonder groot verliese, maar staan op, maak planne en verseker weer iets wat lyk na sukses. Albei vertoon persoonlike veerkragtigheid; baie ander sou in die lig van omstandighede tou opgegooi het.

Die teenwoordigheid van die Suid-Afrikaanse inspekteur Vusi Khumalo verdien ’n deegliker ontleding as wat in ’n resensie tuishoort. Hy verteenwoordig ’n besondere groep mense in Suid-Afrika: struggle-veterane wat nie ná 1994 die goue toekoms bekom het waarop hulle gehoop net nie. Weens daardie frustrasie, en met die voorbeeld van andere om na te streef, doen hy ook dinge ter wille van ’n gerieflike toekoms waarvan hy onder ander omstandighede nie sou kon droom nie. As dit pap reën, moet jy skep – dit is duidelik sy benadering.

Die styl van die vertelling wissel van die baie formele tot die platvloerse, met die woordeskat wat daarmee saamgaan. Dit help skep aan die ekstreme atmosfeer waarin Lanoye se karakters optree. In die wisseling van stemminge, die bisarre gebeure, die manier waarop die karakters swaarkry terwyl jy aangemoedig word om vir hulle te lag, en veral die verskynsel dat die komedie die nuwe en finale ruspunt bereik, maar die roman nog nie klaar is nie – in al hierdie dinge lê vir my die aanduidings dat Lanoye besig is om homo finans (die mens in sy hoedanigheid as geldverbruiker) te satiriseer. Daarom moet ek mooi kyk na die gevoel van frustrasie wat ek aan die begin genoem het: ek verklap sekerlik daarmee iets omtrent hoe Lanoye my knoppies druk.

Oor die vertaling self kan ek nie uitwei nie, omdat ek nie die Nederlandse teks beskikbaar het nie en dus nie ’n uitgebreide vergelyking kon onderneem nie. Die Afrikaanse teks lees egter lekker en selfs gespierd. Hugo gebruik die Afrikaanse woordeskat oor ’n wye spektrum, van finansiële jargon tot informele woorde soos “boffin” tot die platvloerse terme vir liggaamsvloeistowwe en seksdade. Ek wonder wel oor gevalle soos ’n karakter wat “opgroei” of aan die slaap “val”, en ’n paar ander anglisistiese stelwyses. Maar nou ja: die gevaar wat Engels deesdae vir Afrikaans inhou, lê op ’n veel meer openbare vlak as enkele sulke muggies: ek moet dalk my ouderwetsheid onder oë sien en by die program kom. Afrikaanse lesers kan die uitgewer en vertaler bedank dat die boek ter plaatse en bekostigbaar te kry is.

Lanoye skryf nie vir skroomvallige lesers nie. Daar is sekerlik mense wat die platvloershede nie sal waardeer nie, wat sal skrik vir die geweld, en wat dalk nie van die satiriese uitsigloosheid sal hou nie.

Ek het my egter met lees en herlees met genot oorgegee aan die avonture van twee Belge met dieselfde naam en soortgelyke probleme, wat deur ’n geniepsige satirikus in die arena ingestoot word, en ek sien uit na die volgende publikasie van Tom Lanoye.

Die video hieronder is deur Imke van Heerden by die onlangse Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam geneem. 

The post Boekresensie: Gelukkige slawe deur Tom Lanoye appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 396


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>