Quantcast
Channel: NeerlandiNet - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 396

Die nuwe Zuid-Afrikahuis - en met Esopus argief toe

$
0
0

Ongeveer ’n jaar gelede het ek ’n boekie met die naam Die Fabels van Esopus op ’n boekemark in Nederland gekoop. Dit het een euro gekos. Die skrywer van die boekie is PAM Brink. Die kunstenaar Frans van Noorden het die fabels geïllustreer. Die fabels van Esopus is in 1919 gepubliseer by Uitgewery JH de Bussy en versprei deur hul boekwinkels in Pretoria en Kaapstad. ’n Mens kan dit sien aan die stempel agter op die omslag met die name Amsterdam, Pretoria en Kaapstad. Die fabels van Esopus vorm deel III van Boekies vir die kleinspan.   

Die publikasiedatum het dadelik my aandag getrek: 1919. Dis één jaar ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog in Europa, amper twee dekades ná die Anglo-Boereoorlog (deesdae bekender as die Tweede Vryheidsoorlog: 1899 – 1902) en ses jaar voor die erkenning van Afrikaans as amptelike taal op 8 Mei 1925.

Lees ook:
Amsterdam kry Zuid-Afrikahuis terug
Foto's: Openingsgeleentheid van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam
Het vernieuwde Zuid-Afrikahuis, een impressie
Foto’s en videos AKA 2016: Zuilenzaal
Alle foto’s: Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam 2016
NeerlandiNet

Wat het 1919 histories gesien vir die ontwikkeling van Afrikaans beteken? In watter taal is hierdie boekie geskryf? Was dit sommer net ’n voorleesboekie wat kleuters se ma’s kon gebruik? Of was dit bedoel vir die onderwysers met die onderrig van Afrikaans in wording in Suid-Afrika? Wat was die verhouding tussen Afrikaans en Nederlands gedurende die jaar 1919? Wie was PAM Brink? En Frans van Noorden?

Dit is tipiese vrae waarmee ’n mens na ’n argief moet gaan. Die beste argief in Nederland vir vroeë literêre ontwikkelinge in Afrikaans is in Amsterdam. Ek moes bietjie wag, want Zuid-Afrikahuis aan Keizersgracht 141 was toe weens ingrypende restourasie. Die fabels van Esopus het as miniatuur navorsingsonderwerp voorlopig my nuuskierige aandag gevra.

Die inhoudsopgawe vertel sy eie verhaal. In sommige van die fabels se titels lê die Suid-Afrikaanse dierelewe opgesluit met woorde soos "leeuw, jakhals, patrijs, arend" en "slang". Let op die spelling van die eerste drie woorde en ook in die res van die aanhalings in hierdie artikel. In ander fabeltitels proe ek eerder Europa as Suid-Afrika: "beer, Jupiter, Herkules" en "Merkurius". Dit geld ook die titel van die boekie.

In die Inleiding word dit gou-gou duidelik dat die fabels van Esopus bedoel is vir kinders wat al self kan lees. Brink spreek in die inleiding sy jong lesertjies direk aan: "In hierdie boekie gaan julle ’n klompie stories lees ..."  Daarna volg ’n verduideliking van wat fabels is en wie Esopus was. "Ons weet net dat hij ’n Griekse slaaf was, wat naastenbij vijf- of seshonderd jaar vóór die geboorte van Kristus gelewe het. Dit word gesê dat hij baje lelik en gebreklik was, en in Rome is daar ’n standbeeld van hom waar hij so voorkom." Die verwysing na ’n Griekse slaaf met ’n standbeeld in Rome spreek duidelik van ’n Europese konteks.

Wat die spelling, woordkeuse en stelwyse in bogenoemde aanhaling en in die res van die boekie betref, is die taal hier in die posisie van ’n skarnier tussen wat destyds nog ’n bietjie Nederlands was en wat Afrikaans moes word. Soms het Brink die bal misgeslaan in hoe hy gedink het in Afrikaans in die toekoms gespel sou word – soos met die oorvereenvoudige spelling van "Kristus" en "vlie" in die onderstaande fabel. 

Om die ontwikkeling van Afrikaans in 1919 te probeer verstaan, haal ek dus graag aan uit een van die fabels. Daaruit maak ek enkele opmerkings oor die spelling, woordgebruik en stelwyse. Dis onmoontlik om al die interessante taalverskynsels in hierdie artikel te verwoord.

Die jakhals en die kraai (p 31)

’n Kraai steel ’n stukkie kaas van ’n vensterbank af, en vlie in ’n hoë boom daarmee. ’n Jakhals wat verby gaan, sien die kraai met die kaas en gaan onder die boom sit. Toe begin hij heuning om die kraai se mond te smeer. Hij vertel hom hoe mooi hij is.

“Nou sien ek eers hoe mooi dat jij is!” sê hij. “Jouw vere is die mooiste wat ek nog ooit gesien het. So ’n pragtige blink swart kleur! En hoe mooi is jouw lijf tog! Jouw stem het ek nog nooit gehoor nie, maar ek is seker, dit is net so mooi als jouw vere. Als dit so is, is daar seker gin voël wat vir jou sal kan kers vashou nie.”

Die kraai is so in sij skik om dit te hoor, en hij begin sommer sij vere reg stoot. Dit lyk vir hom of die jakhals daaraan twijfel of hij ’n goeie stem het, en so kan die vrind tog nie weggaan nie. Hij maak sij bek wijd oop en "kras! kras!" sing hij.

Les. – Dié wat vir hulle mooi woordjies heuning om die mond laat smeer, sal nog eendag spijt krij daarvan.

  • Dit is duidelik dat die latere Afrikaanse spelling met ’n lang y in 1919 nog nie inslag in Afrikaans gevind het in woorde soos "hij, naastenbij, vijf, jij, lijf, sij" en "spijt krij" nie. Dit word meestal duidelik in voornaamwoorde. Daarteenoor het die j in die agtervoegsel –lik vinnig verdwyn soos in "lelik" en "gebreklik" wat vandag nog in Nederlands met "-lijk" gespel word.
  • Die besitlike voornaamwoord "jou" word nog tipies Nederlands met ’n –w as "jouw" bespel.
  • Die beginletter z- in baie Nederlandse woorde het in 1919 reeds plek gemaak vir die letter s- soos in "seshonderd, sit, sien, so" en "swart".
  • Die woord "gin" was miskien ouditief reg gespel in 1919 (skryf soos jy praat), maar word later in Afrikaans "g’n" – informeel vir "geen".
  • Die Afrikaans woord "sommer" het die plek ingeneem van die Nederlandse "zomaar".
  • Die erfwoord "baie" uit Maleisies word al in 1919 as deel van Afrikaans erken, maar nog met ’n j gespel.
  • Het Afrikaans vandag nog ’n probleem met die plek van die tweede "nie" in die dubbelle ontkenning? Dan was dit destyds ook al die geval!
  • Die omslagtige stelwyse van Nederlands kleef nog vas aan die sin met die laaste vier woorde: "Dit word gesê dat hij baje lelik en gebreklik was, en in Rome is daar in standbeeld van hom waar hij so voorkom." 

Die uitgestippelde les aan die einde van elke fabel het nie die jong lesertjies se vermoë om self ’n les te formuleer, gestimuleer nie. Miskien was dit in 1919 ook nie die bedoeling nie, maar eerder om Afrikaans – ’n nuwe taal (of ’n variant van Nederlands?) – ’n plek op papier te gee en te stimuleer?

Intussen is Zuid-Afrikahuis ná die restourasie heropen en kon ek ’n bietjie gaan kuier met Die fabels van Esopus onder die arm. ’n Mens kom by die biblioteek en die leessaal in, waar één rekenaar staan vir die digitale ontsluiting van die boekrak.

Agter die rekenaarskerm ontdek ek onder begeleiding van die argivaris Jeltsje Stobbe dat die biblioteek ook oor ander eksemplare van Die fabels van Esopus uit 1923 en 1927 beskik. Dit is die tweede en die derde drukke. Ek staan dus met die heel eerste druk in my hande! Hoendervleis. Hoeveel intenser moet taalkundiges en -historici nie so ’n tipe ontdekking ervaar nie? Die rekenaarskerm vertel aan ons dat die skrywer PAM Brink vir minstens nog vyf ander boekies verantwoordelik was tussen die jare 1920 en 1927. As ’n mens aansluit by die biblioteek van Zuid-Afrikahuis kan jy hulle almal uitneem. ’n Titel wat my ’n bietjie laat grinnik oor die spelling en die gesuggereerde betekenis daaragter is Avonture van die swerwer-held Don Kwiksot.

Wie wás PAM  Brink? Dit is baie moeilik om dít uit te vind. Al wat in Zuid-Afrikahuis duidelik word, is dat daar tussen 1904 en 1920 boeke Suid-Afrika toe gestuur is en dat dit bedoel was vir die ondersteuning van Nederlandstalige onderwys in Suid-Afrika. Let wel – Nederlandstalige onderwys.

Verder leer ek ook dat daar ’n "Fonds voor het Hollands Onderwijs in Zuid-Afrika" (FHO) en ’n "Zuid-Afrikaanse Voorschotkas" (ZAV, 1903 – 1993) bestaan het. Eersgenoemde fonds het die ondersteuning van arbeidsmigrasie na Suid-Afrika as doel gehad, waaronder landarbeiders, diensbodes en ook onderwysers. 'n Groot groep Nederlandse onderwysers is tussen 1880 en 1900 Suid-Afrika toe gestuur. ’n Deel van die groep onderwysers is ten tyde van die Tweede Vryheidsoorlog teruggestuur Nederland toe, maar daar het ook baie gebly wat deels meegeveg het in die oorlog. Al hierdie inligting oor hoe die strome met onderwysers hulle na Suid-Afrika en terug na Nederland (of nié) verplaas het en watter probleme hulle ervaar het, staan netjies gedokumenteer in die depot van Zuid-Afrikahuis.

Google Nederland lewer geen resulate meer op oor die skrywer as die databank dbnl nie, al staan Die fabels van Esopus in laasgenoemde opgeneem. Op Google Suid-Afrika word dit duidelik dat daar vandag ’n PAM Brink Laerskool en ook ’n PAM Brink rugbystadion – nou in vervalle staat – in Springs bestaan. Was die skrywer dus ’n onderwyser? Dit wil so voorkom, maar in die Strand is daar ook ’n PAM Brink Ouetehuis, wat vernoem is na ds PAM Brink wat in 1982 sy emeritaat daar aanvaar het. In Februarie 1942 het ene ds. PAM Brink sy roeping as eerste predikant van die NG-gemeente Grootdrink in die Noord-Kaap aanvaar. Is die twee predikante dieselfde persoon? Wie het my boekie geskryf? ’n Onderwyser of ’n predikant? Gerrit Schutte verwys my en argivaris Stobbe na NALN in Bloemfontein. Voorlopig bly die saak onopgelos.

Oor die illustreeder Frans van Noorden is ’n bietjie meer inligting beskikbaar op die internet. Geen enkele spoor lei Suid-Afrika toe nie. Hy moes die illustrasies in Nederland gedoen het. Daaruit kan ’n mens miskien aflei dat PAM Brink sy boekies in Nederland geskryf het. Aan die ander kant sit hy met sy skryfstyl so in die middel van die taalontwikkeling van Afrikaans in 1919 dat hy in Suid-Afrika moes gewees het. ’n Mens kan dit aflei, maar daar is nog niks bewys nie.

Die Uitgewery  JH de Bussy was ’n uitgewery met ’n eie drukkery in Amsterdam. Dit lyk asof daar ook ’n affiliaal van die uitgewery en drukkery in Kaapstad was, plus boekwinkels in Pretoria en Kaapstad –  soos reeds in die inleiding genoem. Wat digitaal duidelik geword het in Zuid-Afrikahuis, is dat die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV) al in 1917 aangekondig het dat hulle die gesamentlike boekwinkels van De Bussy in Suid-Afrika wil verkoop. Kyk na die aankondiging bo-aan op die volgende foto en die leêr in die depot met die inventarisnommer 1803.

Verkope was egter makliker gesê as gedaan. Onder bogenoemde inventarisnommer 1803 staan daar nog onder die briefhoof van hierdie uitgewery ’n aankondiging van ’n versending skooluitgawes na Suid-Afrika op 29 Oktober 1926. Die ondersteuning van “Nederlandstalige” onderwys deur middel van boekies in ’n vroë ontwikkelingstadium van Afrikaans het dus nog voortgegaan. Ná 1926 is die derde herdruk van Die fabels van Esopus nog in 1927 gepubliseer en waarskynlik ook versprei. Wanneer is die boekwinkels verkoop? Waarom?

Op hierdie punt laat vaar ek my miniatuur navorsingsprojekkie. Dit voel asof ek met meer vrae agtergelaat word as toe ek met Die fabels van Esopus vasgeknyp onder die arm in die wintersonnetjie Zuid-Afrikahuis binnegestap het. Bestaan ’n oningevulde gaping in die Afrikaanse taalgeskiedenis in die twee dekades ná 1902 en vóór 1925? Ek weet nie. Miskien kan iemand my uit my onkunde help. Of miskien lê hierdie boekies in die biblioteek en wag vir ’n jong Afrikaanse taalkundige of historikus om verder navorsing daaroor te doen.

Teks en foto's: Carina van der Walt

The post Die nuwe Zuid-Afrikahuis - en met Esopus argief toe appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 396


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>