Quantcast
Channel: NeerlandiNet - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 396

Joost Zwagerman (18 November 1963, Alkmaar – 8 September 2015, Haarlem)

$
0
0

joostzwagerman

Joost Zwagerman (foto: wikipedia)

Na die selfmoordpoging van sy pa in 1998 het die skrywer Joost Zwagerman met steeds dreigender golwe van depressie begin worstel. Om hierdie demoon te besweer en begrip te probeer kry vir wat sy pa tot so ‘n daad besiel het, het hy alles waarop hy sy hande kon lê oor die onderwerp, aangekoop en gelees. Rakke vol het dit in sy sitkamer gestaan. Byna obsessief het hy ‘n studie oor selfmoord begin maak, daaroor geskryf en lesings gegee, en in onderhoude daaroor gepraat. Op 5 Oktober 2002 sê hy in ‘n artikel “Zelfmoord op bestelling” (NRC-Handelsblad): “Ik ben kind van een zelfmoordenaar wiens poging niet slaagde. Met dat naakte gegeven beland je in statistieken die niet mis zijn. Kinderen van een vader of een moeder die ooit een zelfmoordpoging ondernam, lopen 64 keer vaker dan het gemiddelde de kans om chronisch depressief te raken. Verder plegen die kinderen op hun beurt 17 keer vaker dan ‘normaal’ zelfmoord.”

Hy was onwrikbaar in sy opinie: selfdoding of genadedoding is verkeerde keuses, jy mag dit jou naasbestaandes nie aandoen nie. Daarom het hy hom ook sterk uitgespreek in die debat of daar ‘n “selfmoordpil” beskikbaar gestel moet word aan mense wat nie die lewe verder wil aandurf nie en tog waardig wil sterf. “Selfmoord moenie maklik gemaak word nie.” Hieroor was hy gedrewe uitgesproke.

Miskien te gedrewe.

Zwagerman se oeuvre – hy was romanskrywer, digter, essayis, kenner van en skrywer oor populêre kultuur en tendense, popmusiek en kuns – is deurspek met sy worsteling met selfdoding. So skryf hy byvoorbeeld in sy roman Zes sterren (2002): “Dood door zelfmoord is niet te verdoezelen met geparfumeerde nagedachtenis. Iemand die het op een akkoordje met de dood heeft gegooid slaat de achterblijvers het zelfsussende ach en wee uit hande. En dus hebben ze het er liever nooit over.” Hierdie roman – wat as sy beste beskou word – waarin hy binne die veilige raamwerk van fiksie terugkeer na die selfmoordpoging van sy vader, was een van sy laaste pogings tot fiksie. Het hierdie fiktiewe afrekening met een van die grootste traumas van sy lewe hom van sy krag as romanskrywer ontneem? Hierna vloei daar, behalwe die boekeweek-opdrag Duel (2010), nie veel meer fiksie uit sy pen nie. Hy sou veral voortgaan met die skryf van essays en gedigte. Die digbundel Roeshoofd hemelt (2005) trek veral aandag. Skrywer Ilja Leonard Pfeijffer, wat die bundel as “Zwagerman op zijn best” beskou, gee met die volgende aanhaling ‘n gevoel van wat ‘n leser wat Zwagerman se poësie nie ken nie, kan verwag: “Buitengewoon exuberant, vindingrijk en heftig. Turbotaal, citaten, verhaspelingen,  verhaspelingen van citaten in turbotaal, alles buitelt met enorme vaart over elkaar heen.”

Vier jaar gelede, tydens en na ‘n moeilike egskeiding, en ten spyte van ‘n nuwe geliefde, keer depressie weer met nuwe slopende krag terug in sy lewe. Onvoorstelbaar vir mense wat nie fisies by hom was in hierdie swart tye nie om hierdie groot, fors, energieke, entoesiastiese, “larger than life” man voor te stel as gebukkend gaan onder ‘n las van watter aard ook al. Want Joost was aansteeklik met alles wat hom gefassineer het.

Oor sy aansteeklike energie vertel Arjen Fortuin: “Als Zwagerman vanaf het begin van zijn loopbaan één ding deed, was het anderen betrekken bij wat hij in het leven de moeite waard vond. Of het nu poëzie was, Amerika, het korte verhaal, post-modernisme, populaire cultuur, muziek of – zeker de laatste jaren – beeldende kunst: Zwagerman zoog zich vol en rustte niet voor hij zo veel mogelijk mensen had bereikt” (NRC-Handelsblad, 9 September).

So was dit ook. Ek het dit self beleef. Na ‘n lesing van hom oor Amerikaanse kuns by Paagman Boekhandel in Den Haag was ek – nog nooit ‘n Amerikaanse-kultuurliefhebber nie! – meteens gedrewe geïnteresseerd in hierdie land en sy kultuur. Vir my volgende verjaardag was my geskenkwens Zwagerman se  tweedelige Americana, sy versamelde essays oor Amerikaanse kultuur van Ginsberg en Roth tot Updike, Bellow, Franzen en Tarantino. Ek wou vrede maak met Amerika deur die oë en woorde van Joost. Dit was ook hy wat my vir die eerste keer laat begryp het hoe mens na ‘n Mark Rothko-skildery moet kyk en uiteindelik het ek verstaan wat hy bedoel met “Rothko kan ons meevoeren naar verten van zelfvergetelheid en zelfverlossing.” Sedertdien is ook ek ‘n Rothko-bekeerling. So was Joost Zwagerman. Hy en sy begeesterde belangstellings kon niemand wat met hom in aanraking kom, koud laat nie. Hy sou jou anders laat kyk en anders laat dink, en terselfdertyd laat voel of jy self plotseling bars van energie.

Arjen Fortuin sê ook: “Hij wilde de hele wereld in zijn werk hebben.” Daarom het Zwagerman hom ‘n tyd gelede ook krities daarteen uitgespreek dat die Nederlandse letterkunde, in teenstelling tot byvoorbeeld die Amerikaanse letterkunde, te min ruimte het vir die aktualiteit. “Het is onvermijdelijk en het zal bevrijdend werken: de literaire quarantaine moet worden opgeheven. Door de afschaffing ervan is de kans groter dat in Nederland een literatuur kan bloeien waarin geen enkel onderwerp en geen enkele verzinnebeelding op voorhand tot minderwaardig of ‘verkeerd’ wordt verklaard,” betoog hy in sy Kellendonklesing van 2006.

Afgelope Junie pleeg sy goeie ou vriend, die skrywer Rogi Wieg, begeleide selfdood, nadat Zwagerman hom jare lank tot ander insigte probeer bring het. Toe Wieg, een van ‘n hele reeks Nederlandse skrywers wat vir selfdood gekies het – Piet Paaltjens, Menno ter Braak, Jan Arends, Adriaan Venema, Annie MG Schmidt en Anil Ramdas – finaal besluit om ‘n einde aan sy lewe te maak, het Zwagerman hom so sterk daarteen uitgespreek dat hy sy vriend se begrafnis nie kon bywoon nie; hy was nie meer welkom nie. Zwagerman het verslae agtergebly met die gevoel dat hy ‘n mislukkeling was, nie in staat om sy kameraad in die lewe te hou nie. “Mijn vriend én mijn vader betraden destijds een terrein waar ik een hoog hek omheen plaats. Maar ik zou liegen als ik zei dat het terrein mij onbekend is” (NRC-Handelsblad). Nog steeds het Zwagerman verbete volgehou: selfmoord is geen opsie nie; mense wat psigies ly, moet beter gehelp word, het hy gepleit.

Afgelope Dinsdagaand (8 September) sou Zwagerman ‘n radio-onderhoud hê oor sy nuutste boek, wat so pas verskyn het, die essaybundel De stilte van het licht. Schoonheid en onbehagen in de kunst,  waarin hy begeesterd beskryf hoe kuns tot mistieke verstilling en verlossing, ‘n byna religieuse ervaring, kan lei. Die aanbieders het gewag en gewag. Joost het nooit opgedaag nie. Ongeveer ‘n uur later het sy uitgewer bevestig: Joost Zwagerman het selfmoord gepleeg. Op 51-jarige ouderdom.

Sy familie en vriende, die land en sy lesers (hy was een van die drie mees gelese Nederlandse skrywers van sy generasie) vra verdwaas: Waarom? Aan die een kant was dit vir hom ‘n opwindende en mooi tyd met ‘n nuwe geliefde, die verskyning van sy nuwe essaybundel waarvan die presentasie nog nie eens plaasgevind het nie. Daar is ook ‘n bundel nuwe gedigte, NU, wat op pad is drukkers toe met werk van die kunstenaar Marc Mulders en ‘n seleksie van 12 gedigte uit ‘n bundel Wakend over God wat in 2016 sal verskyn. Laasgenoemde bevat 30 gedigte oor ‘n persoonlike geloofstryd met God.

Maar daar was ook minder mooi dinge in sy lewe: die nasleep van sy egskeiding, die voortslepende depressiedemoon en dan ook nog ‘n diagnose met die ongeneeslike en progressiewe outo-immuunsiekte van Bechterew, ‘n degeneratiewe gewrigsaandoening wat daartoe kan lei dat die pasiënt se ruggraat uiteindelik heeltemal krom trek. Hy het sy kommer hieroor met net ‘n paar mense in sy binnekring gedeel. Eers na sy dood verskyn ‘n onderhoud waarin hy openlik hieroor praat. Kollega-skrywer Arthur Japin (sy vader het ook selfmoord gepleeg) sê: “Dat ook Joost deze weg nu heeft gekozen, komt voor mij allerminst als verrassing. Hij had een aantal gruwelijke jaren achter de rug en – ook lichamelijk – een somber toekomstperspectief. Goddank had hij een nieuwe liefde gevonden, maar helaas kan de liefde een mens niet uit een depressie redden. Wanneer je in een depressie bent speelt het leven zich af op een andere golflengte. Je leidt een parallel bestaan. Je geliefden kunnen niet bij jou komen en vice versa. Een mens die zelfmoord pleegt wil niet dood, hij wil alleen een ander leven. Dit te vinden is velen niet gegeven.”

Het hy homself dalk al voorberei op hierdie laaste stap? Dit wonder mens veral omdat hy ‘n paar maande gelede sy hele literêre argief aan die Letterkundig Museum in Den Haag geskenk het. Maar nee, hy het ook onlangs aangekondig dat hy sy ou uitgewer, De Arbeiderspers, wat die afgelope 30 jaar sy boeke publiseer het, sou verlaat en sy volgende roman – gemik vir 2017 – by Hollands Diep sou publiseer. Hy kon dus ook ‘n toekoms vir homself en sy werk visualiseer.

In ‘n onderhoud met HP/De Tijd enkele dae voor sy dood word hy gevra of hy al ooit oorweeg het om selfmoord te pleeg. Sy antwoord: “Absoluut. Maar als een troostgedachte. Daarna heb ik het voor mijzelf getaboeïseerd. Dat geeft al aan dat ik het echt altijd beschouwd heb als no-go-area.” Vyf dae later het hy dit tog gedoen.

In die laaste tyd het hy aan ‘n paar vriende en kollegas gedigte gestuur wat later vanjaar in NU verskyn. Een wat my die meeste tref, is:

Alles hangt weer eens
aan een zijden draadje.
Vertwijfeld en met je
laatste krachten klamp
je je aan het ene einde
van dat zijden draadje vast.
Die draad is in Zijn hand
en vormt een loos detail
van een ragfijn scheurend
noodverband.

In de diepte onder je loeit
zwaar een vagevuur, helder
klaargestoomd door Jeroen Bosch.
Je reikt omhoog, heel even maar
staar je God recht in het gezicht.
Loom trekt Hij zijn schouders op
en wendt zich geeuwend van je af,
als in een laaiend tegenbeeld
van de botsingen der sferen.
Laconiek laat Hij het draadje los.

Of nee, Hij doet iets anders.
Alsof de draad een feestlint is
waarmee het vagevuur als
een gloednieuwe attractie
feestelijk wordt geopend,
knipt hij even feestelijk
die zijden draad in twee.
De niet-gebotste sferen
vallen suizend met je mee.

Hij rekt zich uit, staat op
kijkt werktuiglijk naar omlaag
mompelt iets wat je natuurlijk
niet verstaat. Dan verpulvert Hij
het noodverband. En verlaat je.

Oeuvre Joost Zwagerman

Prosa

De houdgreep (1986)
Gimmick! (1989)
Vals Licht (1991)
De buitenvrouw (1994)
Chaos en rumoer (1997)
Zes sterren (2002)
Duel (2010)

Poësie

De ziekte van jij (1988)
De mooiste vrouw ter wereld (1993)
Bekentenissen van de pseudomaan (2001) Roeshoofd hemelt (2005) Voor alles (2014)

Essaybundels

Collega’s van God (1993)
In het wild (1996)
Pornotheek Arcadië (2000)
Het wilde westen (2003)
Het vijfde seizoen (2003)
Door eigen hand (2005)
Perfect Day en andere popverhalen (2006)
Transito (2006)
De schaamte voor links (2007)
Hollands welvaren (2007)
Alles is gekleurd (2011)
Kennis is geluk (2012)
Americana 1 & 2. Omzwervingen in de Amerikaanse cultuur (2013)
De stilte van het licht (2015)

Bloemlesings

De Nederlandse en Vlaamse literatuur vanaf 1880 in 250 verhalen (2005)
De Nederlandse en Vlaamse literatuur vanaf 1880 in 60 lange verhalen (2006)
De ontdekking  van de literatuur. The Paris Review Interviews (2007)
De Nederlandse en Vlaamse literatuur vanaf 1880 in 200 essays (2008)

The post Joost Zwagerman (18 November 1963, Alkmaar – 8 September 2015, Haarlem) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 396


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>